Goeie môre liewe Heuwelkruiner
Hierdie is darem regtig verwarrende tye waarin ons is. As ek vanoggend na die nuus se hoofopskrifte van ons wêreld kyk, kan ek net my hande saamslaan en sê: Wat het van ons wêreld geword? Dit voel soms of ‘n mens konstant op die rantjie van ‘n afgrond leef, en dat jou voet enige oomblik kan glip en dan val jy …
Vanoggend steek ek by Psalm 121 vas:
“¹’n Pelgrimslied.
Ek kyk op na die berge:
waarvandaan sal daar vir my hulp kom?
²My hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.”
Ek het grootgeword met hierdie teksgedeelte wat die dominee omtrent elke Sondag die erediens mee begin het. Nou dat ek terugdink daaraan, besef ek dat dit toe ook donker en onseker tye was; in Suid-Afrika, maar ook oor die hele wêreld.
Op hierdie lewensreis waarin ek en jy maar pelgrims is, is hierdie teks nou nog steeds (indien nie méér nie) waar; kan ek steeds elke dag in afhanklikheid my oë ophef en vir God sien, hoër as die berge wat voor my opdeins. Want dis dieselfde getroue en magtige God op wie die psalmskrywer sy vertroue stel, dieselfde God op wie die dominee jare terug sy vertroue gestel het wanneer hy die erediens begin het, en dieselfde God wat vandag saam met my en jou reis.
Kom ons kyk vandag maar net op, want hoër as die berge troon God in al sy hemelse heerlikheid uit – sterk, magtig, getrou, groot … kom ons sien Hom eerder raak as al die dinge hier om ons wat ons moeg en moedeloos wil maak.
Mooi dag
Ds Mauritz