Goeiemôre liewe Heuwelkruiner
Martinus von Biberach het ‘n gediggie geskryf:
“Ek kom, maar weet nie waarvandaan.
Ek gaan, maar weet nie waarheen.
Darem snaaks dat ek vrolik is.”
Jesus se hemelvaart is van die kernmomente van die heilsgeskiedenis van God. Trouens, dit is so krities belangrik vir die kerk, dat dit in al drie die Geloofsbelydenisse van die kerk opgeneem is. Wanneer ons Sondae die Apostoliese Geloofsbelydenis hardop bely, sê ons elke keer oor die Seun: “… wat opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van die Vader …”. Ons leef en is kerk ook vanuit ons belydenis van die hemelvaart van Jesus.
Hoekom is Jesus se hemelvaart so belangrik? In Johannes 14 lees ons ‘n deel van Jesus se laaste gesprek met sy dissipels voor sy kruisiging. In Joh. 14 : 1 – 4 sê Jesus:
¹“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. ²In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. ³En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. ⁴En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.”
Jesus is hier, vóór sy kruisiging al, besig om dissipels voor te berei vir sy hemelvaart ná sy opstanding. Jesus gee hier vir sy dissipels (en die kerk) reeds die groter prentjie oor presies waaroor sy verlossingswerk gaan, nl. sodat ons die hemel as erfenis kan verkry. Hoor hoe spel Jesus die betekenis van sy hemelvaart hier in Joh. 14 uit:
* Dit bring vrede vir my as gelowige omdat ek weet wat my toekoms is
* Dit roep my op tot geloof ook wanneer dit voel asof ek alleen is
* Die ewigheid is ‘n verwelkomende plek waar ek gaan tuiskom
* Jesus wag vir ons in die ewigheid
* Jesus gaan ons kom haal eendag
* Ons gaan by God wees!
* Jesus wys vir ons die pad na God, daarom ken ons dit
Die hemelvaart van Jesus is gevul met hoop en verwagting. Dit roep van Jesus my op tot blymoedigheid, tot geloof, tot ‘n aktiewe soeke na God in hierdie bedeling.
Wanneer Jesus hierdie dinge vir sy dissipels gesê het, was hulle onseker daaroor. Jesus herinner hulle egter in vers 6 van Joh. 14: “Ek is die weg …”. Na Pinkster, en voordat gelowiges Christene genoem is, het die kerk bekend gestaan as die “Mense van die Weg”. Dis wie ons is: reisigers in God se wêreld, oppad na die eindbestemming wat Jesus vir ons voorberei, en waarvoor Hy vir ons die weg berei. Ek is deur Jesus as’t ware oppad na “my hemelvaart” …
Martin Luther het Von Biberach se gediggie oorgeskryf:
“Ek kom, ek weet waarvandaan.
Ek gaan, ek weet waarheen.
Darem snaaks dat ek treurig is.”
Mooi loop
Ds Mauritz