Goeiemôre liewe Heuwelkruiner
Ek vermoed baie begin nou soos ek voel: moedeloos. ‘n Mens probeer die inperkingstyd waarin ons nou is verstaan, en ‘n mens probeer dit sien in die lig van die Covid-19-pandemie en al die implikasies wat dit inhou. Maar ek raak nou ‘n bietjie moedeloos. Om net weer ‘n mate van “normaal” in my lewe terug te kry; om net weer vrylik te kan beweeg; om weer met mense kontak te kan maak; ek smag na ‘n erediens waar ons as gemeente bymekaar is en die Here aanbid! Almal praat van ‘n “nuwe normaal”, en dit maak mens net nog meer onseker.
Ek besef egter ook dat ander se moedeloos anders as my moedeloos is. Ek hoor toenemend hoe kinders na skool, onderwysers en hulle maats verlang. Daar is mense wat moedeloos is oor kos, water, werk, besighede, ens. Daar is mense wat siek is, of geliefdes aan die dood afgestaan het. Daar is mense met ‘n moedeloosheid wat langer en dieper lê as net die impak van Covid-19 op ons wêreld.
Wat is die teenpool van moedeloos? Ek dink dit is hoop. Moedeloosheid laat my na binne keer; hoop lig my kop op. Moedeloosheid vul my wêreld met angs en onsekerheid; hoop laat my ligter lewe. Ek word telkens herinner aan die eenvoudige gediggie wat ek êrens gelees het: “Two men looked through prison bars; the one saw mud, the other saw stars …”
Hoop is nie maar ‘n veraf wens nie. Dit is veel meer as ‘n begeerte na iets meer of beters. Hoop is ‘n vaste sekerheid. Hoop is geanker in iets buite myself (vir ons as Christene in ons geloof in Jesus) en dit lei na ‘n nuwe lewenswyse (vir ons in ‘n lewe van liefde).
In 2 Korintiërs 4 is Paulus juis besig met die spanning tussen moedeloosheid en hoop; dat swaarkry en leiding vir die gelowige kind van die Here nie tot moedeloosheid lei nie, maar juis tot hoop. Hoor wat skryf hy in 2 Kor. 4 : 16 – 18:
“¹⁶Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. ¹⁷Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. ¹⁸Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”
Paulus herinner ons dat as ons vir hierdie lewe met al sy ongemak en swaar en lyding net na die nóú, na die onmiddellike, na binne kyk, gaan ek perspektief verloor op wat eintlik kosbaar en belangrik is, nl. dit waarmee God in ons lewens besig is. Ons sal moet begin ontdek waarnatoe God met ons op pad is. En God se op pad wees met ons is nie maar iets wat eendag daar ver in die toekoms lê nie. Nee, dis nou reeds my en jou deel. Reeds in die hier en nou is God met ons elkeen besig, vormend, op hierdie lewensreis waarin ek en jy maar pelgrims op reis saam met die lewende God is.
Daarom: laat ons nie moedeloos word en uitsak nie, maar laat ons met hoop, die oë gerig op Jesus, in hierdie lewe reis. Laat ons begin ontdek hoe God vormend in ons lewens besig is. Mag die kerk vir ‘n moedelose wêreld weer hoop bring.
Mooi dag. Wees veilig.
Ds Mauritz