Goeiemôre liewe Heuwelkruiner
Ek onthou Antie Stienie van Agter Elke Man-faam se woorde: “Weet okie hoekom ek so moet suffer nie!” Skielik het ek baie simpatie met Antie Stienie, want hierdie suffer wat ons nou suffer is nie ‘n lekker suffer nie!
Wys vir my één persoon wat hou van swaarkry?! Dit gaan teen ons grein in, en ons probeer swaarkry so ver moontlik vermy. Die moeilikheid is dat die swaarkry óns nie uitlos nie. Ek lees so ruk trug op sosiale media waar iemand ‘n aangrypende stuk skryf, met die woorde: “Ons is nie almal in dieselfde bootjie nie, maar ons is wel in dieselfde storm.” Dis só waar, want ons elkeen se Covid-19-situasie is anders, en elkeen beleef dit anders en hanteer en verwerk dit anders. Ek dink empatie vra juis dat ek in hierdie tyd vir jou ruimte gee om anders te suffer as ek.
In die Jakobus-brief, skryf Jakobus aan ‘n kerk wat swaarkry – om verskeie redes. Hy skryf vir ‘n kerk wat in ‘n sondige en gebroke wêreld kerk van Jesus moet wees. Én vir ‘n kerk wat bitter swaarkry a.g.v. vervolging. Maar hoor hoe begin Jakobus sy brief in Jak. 1 : 2 – 4:
²My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, ³want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. ⁴En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.
Jakobus praat met die kerk wat beproewings beleef (uit die Grieks: “om getoets te word”). En hy stel dit dat ons (die kerk) hierdie beproewings met vreugde moet verwelkom en verdra. Vreemde gedagte dié. Maar Jakobus probeer ons aandag daarop vestig dat wanneer ons geloof getoets word, en ons nié moeg of moedeloos word nie, dan word ons geloof versterk en gee dit vir ons hoop om te volhard, om aan te gaan, om vorentoe te leef. Dis asof Jakobus hier sê: Geloof kweek geloof. Vertroue stel my in staat om te vertrou.
En die geheim wat Jakobus hier deel is om met ‘n stuk vreugde hierdie swaarkry te dra, blymoedig in die wete dat ook hierdie beproewing my nader aan God gaan bring. En op ‘n manier vir my herinner dat ook hierdie swaarkry maar gering is – dit gaan verby (2 Kor. 4 : 17)! Blymoedigheid te midde van swaarkry herinner die wêreld dat die gelowige kind van God anderkant die horison kan sien, en bewus is van ‘n ander werklikheid waaraan ons vashou en waarvoor ons leef.
Jakobus sê vir my: Beproewing vra blymoedigheid, want blydskap help om te volhard, en volharding versterk geloof …
“Weet okie hoekom ek so moet suffer nie?” … maar ek gaan bly smile …
Mooi dag vir jou
ds Mauritz