Goeie môre liewe Heuwelkruiner
Ek vermoed van die frustrerendste dinge in hierdie inperkingstyd is dat ons besluite en bewegings nie deur onsself bepaal word nie, maar deur mense, leiers en omstandighede waaroor ons geen beheer het nie. Dit voel asof hierdie mag van buite my lewe oorgeneem het, my besluite bepaal en in die proses my magteloos laat.
Dis nie in ons natuur om beheer te word nie. Ek sê altyd: pappas en mammas is eintlik net daar om tweejarige kindertjies uit die moeilikheid te help wat sê: “Sal self!”. En hierdie strewe na onafhanklikheid duur maar ons hele lewe deur. “I want to be the captain of my own ship.” ‘n Inperkingstyd soos hierdie bring ‘n mens egter diep onder die indruk daarvan dat ek toe al die tyd nie so in beheer van alles in my lewe was soos ek gedink het nie …
Maar dis ook goed só, want ons besef opnuut hoe geweldig afhanklik ons van God is. Is die mooiste definisie van gebed dan nie juis om te verklaar dat ek vir my hele lewe totaal van God afhanklik is nie?
In die Bergrede in Matteus 5 : 3 leer Jesus:
³“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
Werklike geluk lê toe al die tyd nie in onafhanklikheid nie, maar om met bedelaarshande voor die Almagtige God te staan. Die skrywer Coenie Burger beskryf ware geluk as: “…’n heel spesifieke soort armoede.” En dan noem hy drie aspekte van “armoede voor God”:
* ‘n erkenning dat my geloof eintlik nie sterk genoeg is nie;
* om in my radeloosheid na iemand te gaan vir hulp – in hierdie geval na God;
* om te erken dat ek niks voor God verdien nie, maar dat alles inderdaad genade is.
In kort sê Jesus in Matteus 5: ware geluk is om elke moment, vir elke aspek van lewe, geheel en al bakhand voor God te leef, maar daarmee saam met die hoop en vertroue dat wat God in my hand sit, genoeg is.
Koos du Plessis sing: “Wat ek is, is net genade; wat ek het, is net geleen”
Mooi dag vir jou
Wees veilig; steek maar jou bakhand na God uit