Goeie môre liewe Heuwelkruiner
Ek dink dit was Murray Janson wat gesê het: “Jou hond moet ook kan sien jy’s ‘n Christen.” Ons hoor die laaste tyd (in die grendeltyd) baie dat ons nou kerk op nuwe maniere moet wees; dat ons nuwe uitdagings vir kerkwees moet aanvaar. En natuurlik staan die kerk in sy bediening aan die gemeente, én aan die breër gemeenskap, voor nuwe uitdagings en geleenthede. Maar op ‘n manier vermoed ek dis ook nie so ingewikkeld nie. Ek dink al wat moet gebeur is dat ons gewoon Christene moet wees; en ook so leef en bely.
Lees gerus Eksodus 34. Dit vertel die verhaal waar Moses op Sinaiberg die 10 Gebooie ontvang het. Maar die interessante is, wanneer hy van die berg af terug by die volk gekom het, moes Moses sy gesig met het doek toemaak, omdat dit geblink het. Elke keer wat Moses teen die berg opgegaan het en in God se teenwoordigheid was, het iets van God se heerlikheid op Moses “afgesmeer”. Maar wanneer Moses van die berg afgekom het, het dit gebeur dat, hoe langer hy weg van God se teenwoordigheid was, die glans ook minder geword het.
In 2 Korintiërs 3 gebruik Paulus hierdie beeld om die werking van die Heilige Gees te verduidelik. In vers 18 lees ons:
“Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”
Die Gees verander ons om iets van die heerlikheid van God na mekaar en die wêreld te weerkaats. Die Gees verander ons stukkie vir stukkie om soos Jesus te begin lyk, leef en doen.
Sonder die onderbrekings van die “alledaagse lewe waaraan ons gewoond was”, kan hierdie ‘n tyd wees om naby aan die Here te kom. ‘n Tyd waarin die Gees ons vorm na die beeld van Jesus.
Sal dit nie wonderlik wees as die inperking gelig word, en ons stap uit ons huise, en ons “blink” van die heerlikheid van ons ontmoetings met God nie?!
Mooi dag
Wees veilig, wees naby die Here