Goeie môre Heuwelkruiner
Psalm 88 vervolg …
Die skrywer van Psalm 88 praat nie net gewoon met God vanuit sy desperaatheid, of omdat hy God as stil en afwesig beleef nie. Hy is kwaad vir God! Hy beskuldig vir God. Hy beleef dat die dood hom in die gesig staar, en hy blameer God daarvoor.
Die psalmskrywer is geheel en al magteloos. En met sy kwaai pleidooi tot God, wat telkens met stilte begroet word, poog hy om tog een of ander reaksie by God te ontlok. Al is God dan ook kwaad en al reageer God dan kwaad op hom, solank God net reageer!
Die psalmskrywer probeer selfs om op God se gevoel te speel, deur daarop te sinspeel dat hy tog nie vir God kan loof, of van Hom getuig, as hy dood is nie. Ons hoor hier hierdie skrywer se intense ervaring van sy nood; en dat hy erken dat God sy heel laaste uitweg is! Hy beleef nie net God se stilte nie, maar beleef dit asof God doelbewus teen hom gedraai het en hom verstoot (vers 15), dat God vir hom kwaad is (vers 17).
Uiteindelik moet die psalmskrywer erken: ”Ek weet geen raad meer nie.” (vers 16).
‘n Mens wil onwilleurig vra: wat maak só ‘n psalm soos Psalm 88 dan in die Bybel?!
1. Want dis die realiteit. Dis die lewe. Dis die wêreld waarin mense leef. Mense voel baie keer ook só. Dít is die wêreld waarin ek en jy moet glo, en inderdaad ook glo; ‘n wêreld waar ons soms Godverlate kan voel …
2. Die Psalm herinner ons dat ons steeds met God kan praat, met God kan besig wees, al gaan dit hóé sleg, en al voel ek hóé verlate. Self op die bodem van die put waarin ek my lewe kan voel, kan ek steeds met God besig wees, want Hy is vir seker met my besig …
3. Ons ontdek in Psalm 88 dat maklike woorde nie altyd troos nie, maar dat die moeilike woorde wél kan. Dis nie altyd die antwoorde wat troos bring nie, maar die wete dat my krag lê in ‘n God wat hoor, altyd hoor, al antwoord Hy nie …
4. En miskien vertel Psalm 88 ons iets van dit waaroor die kruis van Jesus gaan: geloof in tye van absolute Godverlatenheid. Neem Jesus nie juis aan die kruis ons Godverlatenheid, ons moeilike woorde, ons onmag op Hom nie wanneer Hy dit uitroep: “My God, My God, waarom het U My verlaat!”?
Wees maar met God besig, dit is tog immers al wat ons werklik het, en wat geloof beteken …
Veilig wees
Ds Mauritz