Kort na die staat van inperking aan die einde van Maart vanjaar aangekondig is, het daar ‘n artikel in die media verskyn met die tema: “Ons is nie almal in die dieselfde bootjie nie, maar ons ís almal in dieselfde storm.” Die gesegde lui: “Shared pain is half the pain.” En dit is nogal waar – wanneer ek weet dat ek nie alleen swaarkry en ly nie, maak dit inderdaad my pyn en lyding draagliker.
In 1 Petrus 5 waarsku die apostel Petrus sy medegelowiges juis teen die gevaar van lyding en dat die duiwel lyding kan gebruik om die kinders van God moeg en moedeloos te maak. Hy skryf in 1 Petrus 5 : 9b:
”En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur.”
Die lyding waarna Petrus natuurlik hier verwys is die lyding van die vroeë kerk in die eerste eeu nC vanweë vervolging vir hulle geloof. Dit is ‘n vorm van lyding en swaarkry wat ons as kerk in Suid-Afrika nie regtig ken nie. Daar is egter baie ander medegelowiges dwars oor die wêreld wat vervolging vanweë hulle geloof as harde werklikheid ken.
Die lyding van gelowiges kan egter verskeie vorme aanneem. En ons weet dat elkeen van ons sy/haar lyding as harde realitiet beleef en voel. Maar watter vorm van lyding en swaarkry ek as Christen ookal ken, ons almal deel in die lyding. Paulus skryf, na aanleiding van die beeld van die kerk as die liggaam van Christus in 1 Korintiërs 12 : 26 ”As een lid ly, ly al die lede saam …”
Aan die een kant plaas dit ons onder ‘n verpligting: ons moet na ons medegelowiges wat ly omsien – fisies, emosioneel én geestelk. Maar aan die ander kant bied dit ook geweldige troos: ek is nie alleen in my lyding en swaarkry nie. Daar is ander mense, medegelowiges, wat in my lyding deel, soos ek in hulle s’n.
Daarom glo ek dat die swaarkry – en veral die lyding wat ons as gemeenskap, land en wêreldgemeenskap – wat ons tans deurgaan, die potensieël kragtige vermoë het om ons nader aan mekaar te trek tot ‘n hegte eenheid, en om ons verhoudinge sterker te maak. Petrus verklaar juis in 1 Petrus 5 : 10: ”God wat alle genade gee … sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.” Want sien, ons deel nie net in ons lyding nie, ons deel ook in die genade, sorg, bemoediging en uitkoms wat God gee. Ons deel één geloof, één hoop, één lewe, één toekoms: Jesus Christus ons Verlosser.
Daarom is dit my innige gebed dat ons as geloofsgemeenskap en kerk mekaar in hierdie tyd sal raaksien, en dat ons sal begin verstaan dat ons in die selfde storm is, maar ook dat ons mekaar juis om dié rede kan vertroos en bemoedig.
Mag jy vandag opnuut besef: ek is nie alleen in die storm nie …
Mooi dag
Ds Mauritz